Slangstories

2008 April 2 at 5:17 nm (Kindertyd)

Dit is verbasend hoe vinnig jou brein inligting kan prosesseer en daarop kan reageer, veral as jy vooraf opgeskerp is.

In my twaalfde jaar kry Pa ‘n pos by die hoërskool op die dorp en ons word dorpenaars en uiteindelik, koshuisbrakke. Toe ek vyftien is, trek ons terug plaas toe en ry daagliks die 25 kilos in dorp toe.

Somersaande op Haakdoorndraai was soos balsem uit Gilead. Voor die huis ‘n staandak en plafonne gekry het, het die temperatuur in die huis maklik tot 44° gestyg. Dan het ons skuins voor sononder komberse op die grasperk oopgegooi en tot laataand daar gelê, totdat dit weer draaglik geword het in die huis.

Die pad na oom Johannes se huis het so 150 meter onder ons huis verbygeloop. Hy het intussen ‘n tweede plaas, waarop hy sterk water raakgeboor het, gekoop en dit het die middelpunt van sy boerdery geword. Soggens en saans ry hy met ‘n trekker en sleepwa, met die volkies op die sleepwa, waterplaas toe of terug.

Terwyl ons een aand op die gras rondluier, kom hy weer met sy trekker verby en hou by ons hek stil. Daar heers ‘n groot opgewondenheid by die hek en ‘n rukkie later kom een van die basadi uitasem daar aan:”Njôga! Njôga!” sê sy. Oom Johannes het die plaaslike dialek vlot gepraat en het nie sy werkers op grond van hulle kennis van Afrikaans gekeur nie, maar in slangwêreld weet almal wat “njoga” beteken. Ons versamel stokke, swaarde, tuingereedskap, skietgoed, flitse en die gaslamp en stap af om die situasie ter plaatse te evalueer.

Oom Johannes se stem is twee oktawe hoër toe hy vertel dat hy in die vroeg skemer ‘n “stok” in die pad sien lê het toe hy aankom, maar “Buurman, toe daai stok voor opklim, toe klim ek agter af. Dis ‘n helse groot slang. So dik soos my arm!” Ek kyk na sy arm. Ek het nie geweet daar kom nog luislange op Haakdoorndraai voor nie.

Waar is die slang nou? Nee, hy is iewers op die trekker, hy het definitief nie die veld in verdwyn nie. Ons ondersoek die Massey-Ferguson soos ‘n medic ‘n pasient met ‘n hoogs aansteeklike siekte sal ondersoek: verkieslik op ‘n afstand en met minimum kontak. Ons kry die slang ook, ingewurm tussen die enjin en die dieseltenk. Die arme ding moes seker halfgaar gewees het, maar verkies die veiligheid daar, bo die geroesemoes om die trekker.

Die stukkie van die slang wat sigbaar is, is diep onder die tenk. Die enigste manier om dit daar by te kom, is om te skiet, maar dan is die dieseltenk daarmee heen. Druk hier, slaan daar, maar die slang verseg om hom te laat uitlok.

Pa stel voor oom Johannes ry maar die entjie huis toe en gun die onwelkome passasier oornag tyd om sy opsies te heroorweeg.  Vir sy moeite kry hy ‘n snork wat oom Johannes se stoet Landrasbeer eer sou aandoen.

Ons dans soos in ‘n trans om die rooi idool. Einde ten laaste druk die slang ‘n kronkel uit na ‘n koeler plekkie toe, en Pa pen hom met ‘n tabakhanger vas. Niemand is seker waar die skerpkant is nie, en die slang word sentimeter vir sentimeter onder die tenk uitforseer. Eindelik peul die slang se kop uit om na sy treiteraars te pik. Die benoude gevlug verleng sy lewe net met ‘n paar sekondes. Die post mortem toon ‘n duidelike Egiptiese kobra (Naja haje subsp. annulifera), so ongeveer 1,5 m lank, maar nie heeltemaal so dik soos oom Johannes se arm nie. Nogtans is dit ‘n meneer wat genoeg gif dra om ‘n groot man twee keer af te skryf.

Oom Johannes gooi die slang op die sleepwa en die laaste van die basadi val onseremonieel by die verste punt af. Hulle sal die res van die pad stap, dankie.  Hulle weet almal, sommige eerstehands, van rinkhalse wat ‘n  skyndood op jou kan trek. Hulle ry nie saam met die geelslang nie, sy vermorselde kop ten spyt. Slegte keuse, dink ek nog, die goed loop in pare.

Ons versamel ons wapentuig. Ek dra die stokke, graaf en die hark. Pa vat die gaslamp en geweer. Hy stap in die regterspoor van die tweespoor paadjie en ek links. Oom Johannes probeer nog onsuksesvol om die basadi te oortuig om maar saam te ry.

Wat my laat opkyk het, weet ek nou nog nie, dalk het Ma met ‘n kers uit die huis uit gekom, dat dit my oog gevang het. Die opkyk het my gesigsveld verbreed en in die gaslamp se lig sien ek ‘n beweging net regs van Pa.

Hoe vinnig prosesseer jou brein inligting? Hoe vinnig neem jy besluite? Dit is ta se maat wat oorhaal om na Pa te pik. Daar is net een kans: Jy moet slaan met ‘n ding wat maksimum area dek, iets wat die slang se rug kan breek en hom verlam; iets soos ‘n hark, nee, iets soos die rugkant van ‘n hark. Met een beweging pluk ek Pa eenkant toe (ek was toe al omtrent net so groot soos hy), raak van alles behalwe die hark onslae, skree een geweldige skreeu en slaan een geweldige hou.

Pa dink ek raak mal en rand hom aan. Die hark fluit sentimeters van sy kop af verby. Hy koes so erg dat sy bril net aan een oor bly hang, of dalk is dit soos ek hom gepluk het. Hy kyk verbaas toe ek gaan sit omdat my bene my nie meer wil dra nie. Toe dring dit tot hom deur dat ek nie beserk geraak het nie, ek het my redes gehad. Oom Johannes kom haal die lyk en meet hom teen die ander een: ‘n Tweeling.

Die volgende dag is ek kniesterig, elke spier in my lyf is seer. Pa werk in die tuin. Hy brom en trap Outa Isak uit omdat hy die hark vir ‘n koevoet gebruik het: Die steel is krom. (Ek het geleer “Outa” is ‘n titel van respek, nie ‘n belediging nie.) Later roep hy my. “Wys my hoe jy die slang geslaan het?” Ek wys. Die hark se steel is krom gebuig net daar waar ek hom met die voorste hand vasvat.

Dit was ‘n moerse hou.

6 Kommentaar

  1. Nico said,

    Dan moet daarby gesê word dat dit noodwendiglik staalharke was daardie dae.

    Slange is snaakse goed want hulle maak dat die mens vir ‘n oomblik nie aan die normale wette van fisika onderworpe is nie. Ek dink ek het self al al 3 Newton se wette oortree toe ek vir ‘n slang ge-geepad het. Maar dit was ook net vir ‘n breukdeel van ‘n sekonde.

    Ek wonder soms hoe diep die vyandskap tussen die slang en die mens loop, want die outjie wat my daardie 3 wette gelyk laat breek het, het ek ook net so op die onderste periferie van my sig gesien, en iets primal het dit herken en daarop gereageer.

  2. Adrie said,

    Ek was eendag by die Blyderivier Canyon toe daar ‘n slang 2cm voor my voet verby seil. Ek was amper onder opgetel gewees.

  3. Pikkelik said,

    Hier op die platteland moes ek al vele kere die slange bykom. Sommer met ‘n graaf wat ALTYD voor die agterdeur staan. As ek “Augh-Eish Miesies!!!!” hoor, druk ek die kinders in die huis in, gryp die graaf en laat waai na waar die geraas is! Daar’s nie nog tyd om slaanding te soek nie. Baie goeie storie!!!

  4. Adrie said,

    Bloubloed, sorry maar jy is getag.

  5. rosalindfranklin said,

    Wow, lekker storie! Ek het eek keer gesien hoe slaan my Ouma ‘n swart mamba of swart slang soos ons hulle genoem het met ‘n besem morsdood.

    As jy kan lees bietjie wat Eugene Marais alles oor slange geskryf het, prysloos.

  6. rosalindfranklin said,

    hallo waar is jy? ek mis jou stories? hoop alles is reg? groete

Lewer kommentaar