Paint kuns – Update

2008 April 4 at 3:28 nm (Uncategorized)

tag-boom_tn.jpgtag-boom_tn.jpgAdrie tag my om “paint-kuns” te beoefen – ROFL! Daar loop baie kuns in my familie – Ousus het die skilderkuns en beeldhou-werk vermoë geërf, sus Koos die musiek. Ek het net die bedonnerdgeid waarvan kunstenaars gewoonlik beskuldig word geërf. Maar hier is my poging. Die eerste is my eie, die tweede het ek verneuk, airbrush oor ‘n foto wat ge-“watermark” is …

Maar wie tag ek nou?  Enige siel wat oor hierdie blog struikel …

        tag-boom_tn.jpg                                   selfportret_tn.jpg

Advertisements

Permalink 5 Kommentaar

Slangstories

2008 April 2 at 5:17 nm (Kindertyd)

Dit is verbasend hoe vinnig jou brein inligting kan prosesseer en daarop kan reageer, veral as jy vooraf opgeskerp is.

In my twaalfde jaar kry Pa ‘n pos by die hoërskool op die dorp en ons word dorpenaars en uiteindelik, koshuisbrakke. Toe ek vyftien is, trek ons terug plaas toe en ry daagliks die 25 kilos in dorp toe.

Somersaande op Haakdoorndraai was soos balsem uit Gilead. Voor die huis ‘n staandak en plafonne gekry het, het die temperatuur in die huis maklik tot 44° gestyg. Dan het ons skuins voor sononder komberse op die grasperk oopgegooi en tot laataand daar gelê, totdat dit weer draaglik geword het in die huis.

Die pad na oom Johannes se huis het so 150 meter onder ons huis verbygeloop. Hy het intussen ‘n tweede plaas, waarop hy sterk water raakgeboor het, gekoop en dit het die middelpunt van sy boerdery geword. Soggens en saans ry hy met ‘n trekker en sleepwa, met die volkies op die sleepwa, waterplaas toe of terug.

Terwyl ons een aand op die gras rondluier, kom hy weer met sy trekker verby en hou by ons hek stil. Daar heers ‘n groot opgewondenheid by die hek en ‘n rukkie later kom een van die basadi uitasem daar aan:”Njôga! Njôga!” sê sy. Oom Johannes het die plaaslike dialek vlot gepraat en het nie sy werkers op grond van hulle kennis van Afrikaans gekeur nie, maar in slangwêreld weet almal wat “njoga” beteken. Ons versamel stokke, swaarde, tuingereedskap, skietgoed, flitse en die gaslamp en stap af om die situasie ter plaatse te evalueer.

Oom Johannes se stem is twee oktawe hoër toe hy vertel dat hy in die vroeg skemer ‘n “stok” in die pad sien lê het toe hy aankom, maar “Buurman, toe daai stok voor opklim, toe klim ek agter af. Dis ‘n helse groot slang. So dik soos my arm!” Ek kyk na sy arm. Ek het nie geweet daar kom nog luislange op Haakdoorndraai voor nie.

Waar is die slang nou? Nee, hy is iewers op die trekker, hy het definitief nie die veld in verdwyn nie. Ons ondersoek die Massey-Ferguson soos ‘n medic ‘n pasient met ‘n hoogs aansteeklike siekte sal ondersoek: verkieslik op ‘n afstand en met minimum kontak. Ons kry die slang ook, ingewurm tussen die enjin en die dieseltenk. Die arme ding moes seker halfgaar gewees het, maar verkies die veiligheid daar, bo die geroesemoes om die trekker.

Die stukkie van die slang wat sigbaar is, is diep onder die tenk. Die enigste manier om dit daar by te kom, is om te skiet, maar dan is die dieseltenk daarmee heen. Druk hier, slaan daar, maar die slang verseg om hom te laat uitlok.

Pa stel voor oom Johannes ry maar die entjie huis toe en gun die onwelkome passasier oornag tyd om sy opsies te heroorweeg.  Vir sy moeite kry hy ‘n snork wat oom Johannes se stoet Landrasbeer eer sou aandoen.

Ons dans soos in ‘n trans om die rooi idool. Einde ten laaste druk die slang ‘n kronkel uit na ‘n koeler plekkie toe, en Pa pen hom met ‘n tabakhanger vas. Niemand is seker waar die skerpkant is nie, en die slang word sentimeter vir sentimeter onder die tenk uitforseer. Eindelik peul die slang se kop uit om na sy treiteraars te pik. Die benoude gevlug verleng sy lewe net met ‘n paar sekondes. Die post mortem toon ‘n duidelike Egiptiese kobra (Naja haje subsp. annulifera), so ongeveer 1,5 m lank, maar nie heeltemaal so dik soos oom Johannes se arm nie. Nogtans is dit ‘n meneer wat genoeg gif dra om ‘n groot man twee keer af te skryf.

Oom Johannes gooi die slang op die sleepwa en die laaste van die basadi val onseremonieel by die verste punt af. Hulle sal die res van die pad stap, dankie.  Hulle weet almal, sommige eerstehands, van rinkhalse wat ‘n  skyndood op jou kan trek. Hulle ry nie saam met die geelslang nie, sy vermorselde kop ten spyt. Slegte keuse, dink ek nog, die goed loop in pare.

Ons versamel ons wapentuig. Ek dra die stokke, graaf en die hark. Pa vat die gaslamp en geweer. Hy stap in die regterspoor van die tweespoor paadjie en ek links. Oom Johannes probeer nog onsuksesvol om die basadi te oortuig om maar saam te ry.

Wat my laat opkyk het, weet ek nou nog nie, dalk het Ma met ‘n kers uit die huis uit gekom, dat dit my oog gevang het. Die opkyk het my gesigsveld verbreed en in die gaslamp se lig sien ek ‘n beweging net regs van Pa.

Hoe vinnig prosesseer jou brein inligting? Hoe vinnig neem jy besluite? Dit is ta se maat wat oorhaal om na Pa te pik. Daar is net een kans: Jy moet slaan met ‘n ding wat maksimum area dek, iets wat die slang se rug kan breek en hom verlam; iets soos ‘n hark, nee, iets soos die rugkant van ‘n hark. Met een beweging pluk ek Pa eenkant toe (ek was toe al omtrent net so groot soos hy), raak van alles behalwe die hark onslae, skree een geweldige skreeu en slaan een geweldige hou.

Pa dink ek raak mal en rand hom aan. Die hark fluit sentimeters van sy kop af verby. Hy koes so erg dat sy bril net aan een oor bly hang, of dalk is dit soos ek hom gepluk het. Hy kyk verbaas toe ek gaan sit omdat my bene my nie meer wil dra nie. Toe dring dit tot hom deur dat ek nie beserk geraak het nie, ek het my redes gehad. Oom Johannes kom haal die lyk en meet hom teen die ander een: ‘n Tweeling.

Die volgende dag is ek kniesterig, elke spier in my lyf is seer. Pa werk in die tuin. Hy brom en trap Outa Isak uit omdat hy die hark vir ‘n koevoet gebruik het: Die steel is krom. (Ek het geleer “Outa” is ‘n titel van respek, nie ‘n belediging nie.) Later roep hy my. “Wys my hoe jy die slang geslaan het?” Ek wys. Die hark se steel is krom gebuig net daar waar ek hom met die voorste hand vasvat.

Dit was ‘n moerse hou.

Permalink 6 Kommentaar

Van skouers, watertenks en woordeskat

2008 Maart 31 at 12:04 nm (Kindertyd, Mense)

Oom Johannes het nie baie tot my woordeskat bygedra nie. Pa het my taal onderrig behartig.
Pa was nie ‘n groot man nie. Hy was skaars 1.76 m lank en het in sy lewe nooit meer as 66 kg geweeg nie, maar met ‘n liggaam wat Michelangelo as model vir Dawid kon gebruik. ‘n Atleet en sportman was hy, maar rugby het hom ‘n besering toegedien wat hom lewenslank ‘n “gestremde” onnie gemaak het: Sy regter skouer het vreeslik maklik ontwrig, of dan “uit die potjie” gespring.
As Pa hoog op die bord moes skryf, het daardie arm sommer netso uitgeglip. Gebeur dit, verloor hy sy greep op die stukkie kryt en dit val. Om te keer dat die skouer heeltemaal ontwrig, het hy ‘n swaaibeweging uitgevoer wat telkens meegebring het dat hy onwillekeurig die vallende kryt agter sy rug gevang het. Weet jy nie wat aangaan nie, sou jy maklik kon dink dat dit nou sommer pure vertoon was, maar wanneer hy die slag nie die skouer betyds “gevang” kon kry nie, moes iemand help om die arm weer te mobiliseer. As die nood aan die man was, kon hy self, met moeite, die skouer terug kry in die potjie, mits hy sy linkerhand op sy regterarm kon lê. As die nood hemelhoog was, kon hy dit selfs sonder sy linkerhand regkry. Dit het ek net twee keer sien gebeur. Op een dag.
Op die plaas is jy baie meer op die welwillendheid van jou bure aangewese as in die stad. Druk jou buurman op jou nommer, help jy graag want jy weet nie wanneer jy weer hulp gaan nodig kry nie. Oom Johannes het aan hoogtevrees gely. Enige werk wat vereis het dat jy meer as ‘n halwe meter hoog moes opklim, het hy gewoonlik aan Pa “gedelegeer”.
So kom dit dat Pa eenkeer iets op Oom Johannes se watertenk moes doen. Natuurlik was dit nie net in die klas waar die arm gelol het nie. Daardie skouer het ‘n voorkeur gehad om uit te klim as Pa met ‘n watertenk doenig was.
Halfpad teen die 6 meter leer op, was dit sulke tyd en daar staan Pa, regterarm omhoog gevries soos ‘n priester wat vergeet het hoe om ‘n seën uit te spreek. Los hy met sy linkerhand, kletter hy van die leer af. Niemand kan op die leer verbykom om die skouer te help mobiliseer nie. Oom Johannes klim twee sporte op en twee af, twee op en twee af, maar kan nie die moed bymekaar skraap om Pa te gaan vashou sodat hy homself kan behelp nie. Ek is te klein om Pa te kan vashou. Pa praat in vreemde tale.
Eindelik druk ‘n plaaswerker Pa in ‘n stewige ou-sweet omhelsing vas sodat Pa die arm weer aan sy wil kan onderwerp. Dit was die laaste keer wat oom Johannes Pa gevra het om ‘n leer te klim.
Ons watertenk was nie so hoog nie, maar het sy eie drama opgelewer. Van die boorgat af, was daar ‘n vertikale pyp na die watertenk. Halfpad in die pyp was daar ‘n horisontale lasstuk, waardeur water in die leidam gepomp is. Om die water in die tenk te kry, skroef jy ‘n prop in die horisontale pyp se bek in en siedaar! Die probleem is, as jy die horisontale pyp se bek ooplos, kan daar ‘n padda inkruip wat dan met die volgende pompslag in die watertenk beland.
So gebeur dit dan dat ons op ‘n dag uitvind dat die drinkwater nie so vars is nie. Pa klim op die enjinkamer se dak, en vandaar op die tenkstaander. Van die tenkstaander is dit rek, vasvat en ophys, dan lê jy op die tenk. Bo-op die tenk is ‘n mangat van so halwe meter of wat waardeur jy in die tenk kan kom, of waardeur jy ongewensde voorwerpe soos dooie paddas met een van die kinders se strandemmertjie kan uitskep.
Omdat die tenk nog half-vol is, druk Pa sy regterarm en kop (vir die sien) by die mangat in vir die skepslag. Dit stink in die tenk. Die padda dryf so half bokant Pa, net daar waar die arm uit die potjie klim as hy mik om te skep. Pa lê met sy kop en af-arm in die tenk en swets. Ek leer dat ‘n halfleë watertenk ‘n wonderbaarlike klankkas maak. ‘n Paar dik ore en kopnerwe later het Pa sy kop uit die tenk uit, maar kan nie sy regterarm uit die tenk uit kry nie, ook nie sy linkerarm in die tenk in nie. Ma wil op die tenk klim om te help. Ek leer ‘n paar nuwe woorde by en Ma besluit haar idee was nie te briljant nie. Ons kyk, en ons wag. Paddatyd is die Bosveldson wreed.  Ons kyk, en wag, en kyk, en wag. Pa haal ‘n paar Houdini truuks uit en klim hoogs moerig af. Nou is daar ‘n padda en ‘n strandemmer in die drinkwater.
Ma kloek en smeer Mercurochrome. Pa vra tee, maar die water is vrot. Hy klim terug op die tenk met ‘n hark om die emmertjie te haak en uit te tel, maar die emmertjie dryf doer ver. Hy rek met die hark en … uit is die skouer! Sy kop is nie in die tenk nie, maar hy kan nie sy regterarm uit die tenk uitkry nie, ook nie sy linkerarm in die tenk in nie. Ek leer nog ‘n paar nuwe woorde.
Nou moet jy verstaan, as die arm uit die potjie was, swel die omliggende weefsel. Die swelling is so ongeveer eweredig aan die tyd wat die skouer ontwrig was. As die weefsel geswel is, is dit soveel moeiliker om die skouer weer te mobiliseer. Die arm was daardie dag al uit die potjie. Lank. Ek dag dis ‘n goeie idee om te gaan help en wil op die tenk klim, maar ek kàn nie – Pa vloek die tenk tussen hom en my rooiwarm. Ons kyk, en ons wag. Paddatyd ken die Bosveldson geen genade nie.  Na ‘n lang gespook kry Pa weer die Houdini-ding reg. Sy moermeter se naald is om die stop gevou. Nou is daar ‘n padda, ‘n strandemmer en ‘n hark in die drinkwater. Die teewater is nog steeds vrot.

Met poging nommer drie leer Pa skielik linkshandigheid aan. Die hark kom uit, die emmertjie ook. Pa sukkel om die padda met die emmer in die linkerhand geskep te kry, maar my woordeskat stagneer. Daardie woorde ken ek al almal. Eindelik is die padda in die emmer en die emmer op die tenk. Pa maak die mangat toe en gee die hark aan. Hy gooi die emmertjie met die padda met ‘n boul-aksie van die tenk af. Pa kàn nie met ‘n boul-aksie gooi nie, sy arm klim uit die potjie uit … Gelukkig lê hy nie weer met sy regterarm in die tenk nie. Ek leer niks nuut nie, want Pa praat nie: Pa brul. Ek dog eers hy het weer sy kop in die tenk gedruk, maar hy het nie. Hy brul soos ‘n leeu.  

Ek ken modder as ek dit sien, ander bruin goeters ook. Wat ek sien aankom is nie modder nie. Daar is ‘n mooi kweperlaning op die werf. Ek sien nie rede waarom dit verinneweer moet word as ek voorsorg kan tref om dit te verhelp nie. Ek wil nie beweer dat Pa ‘n onredelike man was nie, maar dis dom om ‘n moerige leeu se stert te trek. Jy talm ook nie daar rond as jy weet sy stert is al klaar getrek nie. 

Ter wille van die kweperlaning gaan klim ek die ysterklip koppietjie uit en kyk die res van die dag na die akkedisse met die bont sterte. Daardie leeu was verby moerig. Ek het hom hoor brul.

Permalink 5 Kommentaar

Oom Johannes

2008 Maart 30 at 4:56 nm (Kindertyd, Mense)

Nico het nou my vred(t)ige bestaan kom staan en belol. Merkwaardige mense … hmm. Daar is veral twee wat ek sou uitsonder: Oom Johannes en (oom) Kobus. Maar vandag vertel ek van oom Johannes.

Bloubloed het op die platteland grootgeword, op ‘n plasie van so 30 hektaar. Pa was een van drie onderwysers by die plaasskooltjie, so vyf-ses kilo’s van die plasie af. Oom Johannes, die naaste buurman, se huis was so halwe kilo van ons af – naby genoeg dat ons kon hoor as hy soggens een van sy werknemers se sondes van die vorige dag, of saans, sondes van die afgelope dag, onder die loep geneem het. Sy stem het dan met ’n oktaaf of twee gestyg en die desibels het hier rondom rooilyn bly huiwer. So was hy ‘n vroeë teenwoordigheid in my lewe, maar ek kan nie onthou dat hy gedurende sulke tirades enigsins tot my woordeskat bygedra het nie. Die ergste was toe hy eendag vir een van sy werkers wat ‘n paar dae ge-AWOL het, vertel het: “Jou huis is rond, jou kop is rond en jy loop rond, jou st..nt!”

Hy was ‘n groot man, stewig oor die ses voet (1,83 m) en seker ‘n goeie 120 kg sonder dat hy juis spek saamgedra het. ‘n Myner van die standerd-ses skoolbanke af, het hy vir bykans alles kans gesien, maar moet hom asse-groot-seblief nie vra om op ‘n baksteen te klim nie. ‘n Kop vir hoogtes, die had hy nie.

Met ‘n noukeurig gespaarde geldjie kon hy ’n plaas-droom in Maleoskop se wêreld koop. Na die plasie betaal is, was die geld ook op en is die sekelbos en haak-en-steek met bloed en sweet die stryd aangesê. Rugbreek jare was dit, wat hom seker saans soos ‘n dooie in die bed laat val het.

Ten spyte van ’n vaste inkomste was my huisgesin maar bra arm. Nou nie barre nood soos ek baie jare later onder sommige swart mense sou sien nie, maar daar wàs dae wat Ma nie geëet het nie. Eers later sou ek verstaan dat dit nie was om gewig te verloor nie – sy was reeds ‘n maer kraai – maar dat die brood en meel nie tot by nog ‘n betaaldag gerek kon word as sy saamgeëet het nie.

Kleintyd het ek dus heel gemaklik by oom Johannes en sy gesin se relatiewe gebrek ingepas en kon ek in daardie gesin se vreugde deel toe dit met hulle beter begin gaan het. Die vroegste van daardie beter dae wat ek kan onthou, was die diesel Vaaljapie en sy eerste koringoes daarna.

Die oes is toe nog in gerwe ingesamel en na die dorsvloer gery. Daar is dit met ‘n masjientjie gedors, en het die mudsakke ry op ry gestaan, elke sak mooi afgeweeg: 210 pond. Pa se opmerking dat die oes hom darem ‘n treetjie vorentoe sal sit, het hom lank met sy hand koring uit ‘n sak laat skep en deur sy vingers laat terugglip, skep en laat teruggly, skep … Uiteindelik het hy opgekyk en saggies gesê: “Buurman, wat dit regtig waarde gee, is dat ek kan weet êrens gaan iemand nie honger slaap nie.”

‘n Intelektuele reus was oom Johannes nie, maar daar was nie ‘n masjien wat hy nie kon reg toor nie. Op ‘n dag het ‘n ander buurman hom gevra om ‘n dieselenjin wat ‘n skeet gehad het reg te maak. Die hele masjien is uitmekaar gehaal, herstel en weer aan die gang gesit. Daardie middag kom ‘n boodskapper aan met die tyding: Die masjien staan. Oom Johannes het lank voor hom uitgestaar, toe baie verleë na Pa gekyk,   “Buurman, dit is my skuld!” gesê en ‘n vergete wastertjie uit sy broeksak gevis.   Hy het haarfyn beduie waar die wastertjie moes in, maar kon nie verklaar waarom dit daar moes wees nie. Hy het net geweet as die wastertjie nie daar is nie, sal die enjin nie aanhou werk nie!

Moenie glo dat hy ‘n engeltjie was nie! Hy het met smaak vertel hoe sy skoonma sy huwelik gered het: Eendag was hy so by koffietyd naby die huis, en het ingeval vir ‘n ou lafenissie. Vroutjie was nie gewoond aan die ontydige inkommery nie en het gewoon aangegaan met haar dagtaak, min wetende dat sy teenwoordigheid eintlik ‘n skimp vir ‘n ou koffietjie was. Na hy ‘n ruk daar rondgestaan het en daar nie ‘n drinkdingetjie na vore gekom het nie, het hy die koffiepot van die koolstoof afgegryp, gekyk of dit rêrig leeg was, dit by die agterdeur uitgesmyt en geloop. Skoonma, wat op daardie stadium by hulle gebly het, het die keteltjie loop optel, koffie gemaak en vir hom land toe gevat …

Destyds het die Tegniese Kollege in Pretoria nog “volwasse onderwys” kampe in die Julie-vakansies gereël, daar op Oberon by Harties. Pa en oom Johannes het saam-saam ‘n fotografie kursus bygewoon, ‘n donkerkamer toegerus en bedryf. Pikkie wat ek was, het ek ook saamgespeel in die donkerkamer. Dit was die eerste keer wat ek kan onthou dat oom Johannes uitgereik het en my lewetjie aangeraak het.

Ek het altyd ‘n belangstelling gehad in die boedery neffens ons. Toe oom Johannes vir hom twee Dorper ramme kry om sy krummels “op te teel”, het ek met ‘n verwagting na die eerste lammers uitgesien asof dit my eie was. Daar het hy my voor die eerste groot keuse in my lewe gestel: Ek kon kies, hy sou òf vir my ‘n ooilam merk, òf ‘n ligmeter gee vir die fotografie.

Hoe kies ‘n tjokker van skaars vyf tussen twee koninkryke wat jy kan beërwe? Oom Johannes het my nie net met die keuse gekonfronteer nie, hy het ook met my gesit en die voordele, nadele en gevolge van elke keuse uitgetrap. Hoe dankbaar is ek dat hy so vroeg in my lewe daardie les geleer het …

Toe ek groter was het ek vas besluit: Ek gaan ‘n wetenskaplike word. Vir my was die sleutel tot daardie droom my eie mikroskoop. My ouers kon so iets nie bekostig nie en ek was al groot genoeg om die moeilike posisie te verstaan waarin ek hulle sou plaas deur selfs net te vra. Ek het my drome by oom Johannes gaan bekla en ‘n naweekwerkie vir ‘n geldjie by hom gebedel – hy was toe al beter daaraan toe.

Hoe dit bewerk is weet ek nie, maar Pa het kort daarna vir my ‘n mikroskoop – en ‘n preek – gegee. Vandag vermoed ek dat Oom Johannes die geld vir die mikroskoop, of ten minste ‘n deel daarvan, gegee het.

By oom Johannes het ek geleer dat ‘n man màg huil. Sy rou smart toe sy pa vermoor is en sy erbarmlike verwesenheid toe sy Buurman die dag begrawe is, bring vandag nog trane in my oë.

Oom Johannes het daarna nooit Pa se plek probeer oorneem nie, maar soos ‘n skaduwee was hy altyd in die agtergrond: Nooi ons vir braaivleis tussen die wilde seringe by Cullinan toe die plaas hom in die droogte afgooi en hy desnoods ‘n prospekteer kontrak moes aangaan; kom laai ’n bakkievrag sand in die stad af toe Pienkbloed ‘n rotstuin wou aanlê; wys ons sy nuwe plaas by Bronkhorstspruit …

Die werkers het hom Swal’whal genoem, “Die man wat altyd lekker kon lag.” ‘n Lag wat so groot soos hy was, ‘n lag wat so groot soos sy hart was …

Ek sit in die Oos-Kaap toe sy lyf te moeg word vir nòg lewe en kon nie totsiens kom sê nie. Hamba gahle, Swal’whal. Dankie vir die lag wat jy in my lewe gesit het …

Permalink 5 Kommentaar

Neem uit die verlede

2008 Maart 27 at 6:21 nm (Laasjaar se stories)

Rosalind se storie oor Ouma en die Kakie laat my wonder: Hoeveel van gister se stories het al verlore gegaan sonder dat dit ooit oorvertel is?

Meeste van die oorleweringe van die ou mense is seker Bôggom en Voertsek stories (…/daar is niks daaruit te leer nie/en geen voordeel om daaruit te trek), maar nogtans. Die alledaagse gebeure in Oupa en Ouma se lewens het uiteindelik my waardes en lewensuitkyk help vorm.

My oupas en oumas lê al lank en langboompies kyk. Pa het Ouma in daardie wedren gewen, en Ma se koppie is nie meer aldag helder nie. Ek weet ek het nie al die O&O stories gehoor nie, die paar wat ek nog ken moet ek dalk neergriffel.

Oupa van der Merwe het die Swartland se klei van sy voete afgeskud en hom in die Transvaal kom vestig. Ek het hom nooit geken nie. Ses jaar voor ek was, is hy, soos dit ‘n goeie sendeling betaam, tot hoër diens opgeroep, maar nie voor hy vier VDM’pies tot die talryke familie toegevoeg het nie: Twee seuns en twee dogters.

Ouma van der Merwe, nee Brand, was lewenslank trots op haar aangetroude van, want hààr grootoupa-pa was òòk ‘n Van der Merwe. Daardie Van der Merwe is in haar pa, my groot-oupa, se naam verewig: Nicolaas Johannes van der Merwe Brand – wel, tydelik verewig dan. Daardie tak van die VDMs was boorlinge van die Kolonie, uit Upington se omgewing. (In al haar dae het ek Ouma nooit hoor praat van die Kaap nie,  “die Kolonie” was dit en niks anders nie.) Hierdie storie gaan oor dààrdie Van der Merwes. Hoeveel daarvan waar is weet ek nie. Ek gee dit aan vir die prys waarvoor ek dit gekry het.

‘n Jaar of twee na die tweede wêreldoorlog het Ouma en haar Jongste Spruit die lang pad na die Kolonie aangepak in ‘n neëntien-voertsek DeeKaaWee’tjie om gebroke familiebande op te tel, te herbevestig en te versterk na die dood van Oupa in 1944. Een van die moès besoeke, was om vir tant Santjie van der Merwe te gaan kuier.

Arme Jongste Spruit was natuurlik nog nooit in die Kolonie nie en Ouma se geheue van hoe die plaaspaaie nou eintlik loop, was na amper veertig jaar gevaarliker as die sinkplaatpad wat gedreig het om die DeeKaaWee’tjie tot ‘n hopie onderdele te reduseer. Die enigste raad was maar om pad te vra, maar O Wee! Niemand ken tan’ Santjie van der Merwe nie!

Ouma was ‘n vindingryke vrou en het mos in diè wêreld groot geword! Na vele vrugtelose navrae breek die daglig uiteindelik deur: Kan die geëerde padwyser dalk beduie waar bly Nôi Santjie Omkyk? Nôi Santjie Omkyk? Geen probleem nie! Gou-gou was hulle daar. Met ‘n koppie gaat en ‘n boerbeskuit kon hulle die stof uit hulle kele was en vir ‘n paar dae die natuurskoon van niksheid geniet.

Omkyk? Omkyk! Vanwaar diè vreemde “van”? Die storie loop glo so:

‘n Klomp brandarm Boere het nà die Engelse Oorlog (ek dink dit was 1881 s’n, ander pas die prentjies nie mooi  in mekaar nie) ‘n eiland in die Oranje, naby Uppington, beset. Hulle had ‘n eenskaar ploegie, maar tussen die hele spul was daar nie ‘n perd, ‘n os of selfs ‘n Uppingtonse esel waarmee die eiland se ryk grond geploeg kon word nie. Maar ‘n Boer maak ‘n plan, die manne maak spanne en trek maar self die ploeg.

Die stoere voorvader, glo ene Piet van der Merwe, was die “voor-os” in sy span. (Ek verstaan dat hy besonder blas van kleur was en genoegsame bewys nagelaat het dat hy nie ‘n os was nie.) As voor-os èn touleier van die span, moes onse Piet sorg dat die manne nie onnodig ver loop nie. Hulle moes energie spaar om daardie ploeg te trek! So het hy, wanneer hulle naby die einde van die akker kom, so omkyk-omkyk geloop om te sien wanneer hy die draai moes aanvoor.

Om ‘n ploeg te kan trek, moet ‘n man jou kop laat sak en voor jou kyk. Loop jy en omkyk, tel jy jou kop op en verminder jou trek-vermoë (en energie verbruik) dramaties – iets wat die ander “osse” gou agterkom.

Eendag was onse Piet glo nie te erg op sy stukke nie. Dalk het hy die vorige aand ‘n os nek-om gedraai – ons sal nooit verseker weet nie. Ewenwel, hy het die dag voor die ploeg baie vroeër en baie meer kere as wat hy moes, “omgekyk” om te sien wanneer hy die span moes omlei. Een van die “agterosse” was heel gou nie gediend daarmee dat hy meer as sy regverdige deel sweet moes inlê nie, en het daar van agteraf geskreeu: “Swart Piet Omkyk, jy moet minder omkyk en meer trek!” (Ouma was baie Victoriaans. As daar ander tale gebesig is, is dit gesensor – in elk geval waar daar klein jukskeitjies met groot koppe naby was.)

Van die dag af was Piet en sy nageslag in die omgewing bekend as die “Swart Omkyks” – die nageslag het almal Piet se blas gelaat beërwe. Verniet dat jy na Santjie van der Merwe loop soek het, maar vir Santjie Omkyk het almal blykbaar geken.

Permalink 6 Kommentaar

Mense wat ek graag wou ken

2008 Maart 16 at 11:34 nm (Drome, Godsdiens, Nostalgie)

Dis Sondagaand en ek sit en luister met een oor na Johan Botha se “Dis Opera” op RSG. En ek dink aan die man …

Hy is een van die mense wat ek graag sal wil ontmoet. Hy is seker een van die veelsydigste mense wat ek van weet – wel, dan ten minste een met die mees uiteenlopendste smake, belangstellings en talente. Maandagaand is hy moordenswaardig as hy met die tieners deurmekaar is, ontroerend as hy op 50/50 die Groen Saak bepleit en Sondagaand is hy prikkelend (nee, nie in daai sin nie – jy kan mos stout kinders met hom bangmaak!) as hy oor opera gesels. Dalk sou ek hom ook nie wou ontmoet nie, sê nou ek is teleurgesteld met die ontmoeting?

Dit laat my dink, wie sou ek nog graag wou ontmoet? Daar val al heeldag ‘n ketsnat reën en Sondagaand is mos ‘n goeie tyd om te tob, te besin en onmoontlike drome te droom. Laat my dink …

Adam. Sou hy my kon vertel hoe dit voel om vlekloos, sondeloos te kan staan, as heerser oor die volmaakte en onbesoeldelde skepping? Sou hy by my ‘n beter begrip kon inprent van presies hoè dit voel om God as Vader te ken en te ervaar, en hoe verskriklik dit règtig is om van Hom geskei te wees? Sou hy beter verstaan van die verskiklike alleenheid wat ons soms voel, selfs saam met die maat wat Hy spesiaal vir jou gemaak het?

Moses. God het so baie met hom gepraat, dalk sou ek van hom kon leer hoe God se stem klink, hoe om Hom te hoor. Ek sou my saam met hom kon verwonder as die see skeur en as Mara se bitter water soet word. Hy sou my kon vertel hoe manna smaak en hoe die oggendlug na heuning ruik as die manna in die son versmelt.

Jesaja sou my kon leer om te sien, en om my onrein lippe om die woorde te vou wat sou kon vertel wat ek sien.

Vir Paulus is ek lugtig. Die man kan jou dalk ompraat om ‘n toring aan te pak waarvan jy weet die koste is te hoog, jou dalk oortuig dat jy meer moed het as wat jy regtig het. ‘n Gevaarlike man is hy vir een soos ek wat saf geword het van die gemak van die 21ste eeu.

By Isaac Newton sou ek kon leer om natuurwette oop te breek en ‘n groter orde te sien as wat daar in my deurmekaar bestaan is.

Livingstone sou my kon vertel hoe Afrika gelyk het toe die olifante nog dik geloop het waar Oom Paul nou al die radiomaste op die Magaliesberg staan en bekyk. Hy sou die woorde gehad het om te vertel hoe dit voel om die Zambezi die eerste keer in ‘n kloof te sien afstort, as niemand jou vooraf vertel het hoe mòòi dit is nie.

Maar meeste, mèèste, sou ek die Een wou leer ken, goed leer ken, wat vertel van die ligte las en die sagte juk …

Permalink 8 Kommentaar