Van skouers, watertenks en woordeskat

2008 Maart 31 at 12:04 nm (Kindertyd, Mense)

Oom Johannes het nie baie tot my woordeskat bygedra nie. Pa het my taal onderrig behartig.
Pa was nie ‘n groot man nie. Hy was skaars 1.76 m lank en het in sy lewe nooit meer as 66 kg geweeg nie, maar met ‘n liggaam wat Michelangelo as model vir Dawid kon gebruik. ‘n Atleet en sportman was hy, maar rugby het hom ‘n besering toegedien wat hom lewenslank ‘n “gestremde” onnie gemaak het: Sy regter skouer het vreeslik maklik ontwrig, of dan “uit die potjie” gespring.
As Pa hoog op die bord moes skryf, het daardie arm sommer netso uitgeglip. Gebeur dit, verloor hy sy greep op die stukkie kryt en dit val. Om te keer dat die skouer heeltemaal ontwrig, het hy ‘n swaaibeweging uitgevoer wat telkens meegebring het dat hy onwillekeurig die vallende kryt agter sy rug gevang het. Weet jy nie wat aangaan nie, sou jy maklik kon dink dat dit nou sommer pure vertoon was, maar wanneer hy die slag nie die skouer betyds “gevang” kon kry nie, moes iemand help om die arm weer te mobiliseer. As die nood aan die man was, kon hy self, met moeite, die skouer terug kry in die potjie, mits hy sy linkerhand op sy regterarm kon lê. As die nood hemelhoog was, kon hy dit selfs sonder sy linkerhand regkry. Dit het ek net twee keer sien gebeur. Op een dag.
Op die plaas is jy baie meer op die welwillendheid van jou bure aangewese as in die stad. Druk jou buurman op jou nommer, help jy graag want jy weet nie wanneer jy weer hulp gaan nodig kry nie. Oom Johannes het aan hoogtevrees gely. Enige werk wat vereis het dat jy meer as ‘n halwe meter hoog moes opklim, het hy gewoonlik aan Pa “gedelegeer”.
So kom dit dat Pa eenkeer iets op Oom Johannes se watertenk moes doen. Natuurlik was dit nie net in die klas waar die arm gelol het nie. Daardie skouer het ‘n voorkeur gehad om uit te klim as Pa met ‘n watertenk doenig was.
Halfpad teen die 6 meter leer op, was dit sulke tyd en daar staan Pa, regterarm omhoog gevries soos ‘n priester wat vergeet het hoe om ‘n seën uit te spreek. Los hy met sy linkerhand, kletter hy van die leer af. Niemand kan op die leer verbykom om die skouer te help mobiliseer nie. Oom Johannes klim twee sporte op en twee af, twee op en twee af, maar kan nie die moed bymekaar skraap om Pa te gaan vashou sodat hy homself kan behelp nie. Ek is te klein om Pa te kan vashou. Pa praat in vreemde tale.
Eindelik druk ‘n plaaswerker Pa in ‘n stewige ou-sweet omhelsing vas sodat Pa die arm weer aan sy wil kan onderwerp. Dit was die laaste keer wat oom Johannes Pa gevra het om ‘n leer te klim.
Ons watertenk was nie so hoog nie, maar het sy eie drama opgelewer. Van die boorgat af, was daar ‘n vertikale pyp na die watertenk. Halfpad in die pyp was daar ‘n horisontale lasstuk, waardeur water in die leidam gepomp is. Om die water in die tenk te kry, skroef jy ‘n prop in die horisontale pyp se bek in en siedaar! Die probleem is, as jy die horisontale pyp se bek ooplos, kan daar ‘n padda inkruip wat dan met die volgende pompslag in die watertenk beland.
So gebeur dit dan dat ons op ‘n dag uitvind dat die drinkwater nie so vars is nie. Pa klim op die enjinkamer se dak, en vandaar op die tenkstaander. Van die tenkstaander is dit rek, vasvat en ophys, dan lê jy op die tenk. Bo-op die tenk is ‘n mangat van so halwe meter of wat waardeur jy in die tenk kan kom, of waardeur jy ongewensde voorwerpe soos dooie paddas met een van die kinders se strandemmertjie kan uitskep.
Omdat die tenk nog half-vol is, druk Pa sy regterarm en kop (vir die sien) by die mangat in vir die skepslag. Dit stink in die tenk. Die padda dryf so half bokant Pa, net daar waar die arm uit die potjie klim as hy mik om te skep. Pa lê met sy kop en af-arm in die tenk en swets. Ek leer dat ‘n halfleë watertenk ‘n wonderbaarlike klankkas maak. ‘n Paar dik ore en kopnerwe later het Pa sy kop uit die tenk uit, maar kan nie sy regterarm uit die tenk uit kry nie, ook nie sy linkerarm in die tenk in nie. Ma wil op die tenk klim om te help. Ek leer ‘n paar nuwe woorde by en Ma besluit haar idee was nie te briljant nie. Ons kyk, en ons wag. Paddatyd is die Bosveldson wreed.  Ons kyk, en wag, en kyk, en wag. Pa haal ‘n paar Houdini truuks uit en klim hoogs moerig af. Nou is daar ‘n padda en ‘n strandemmer in die drinkwater.
Ma kloek en smeer Mercurochrome. Pa vra tee, maar die water is vrot. Hy klim terug op die tenk met ‘n hark om die emmertjie te haak en uit te tel, maar die emmertjie dryf doer ver. Hy rek met die hark en … uit is die skouer! Sy kop is nie in die tenk nie, maar hy kan nie sy regterarm uit die tenk uitkry nie, ook nie sy linkerarm in die tenk in nie. Ek leer nog ‘n paar nuwe woorde.
Nou moet jy verstaan, as die arm uit die potjie was, swel die omliggende weefsel. Die swelling is so ongeveer eweredig aan die tyd wat die skouer ontwrig was. As die weefsel geswel is, is dit soveel moeiliker om die skouer weer te mobiliseer. Die arm was daardie dag al uit die potjie. Lank. Ek dag dis ‘n goeie idee om te gaan help en wil op die tenk klim, maar ek kàn nie – Pa vloek die tenk tussen hom en my rooiwarm. Ons kyk, en ons wag. Paddatyd ken die Bosveldson geen genade nie.  Na ‘n lang gespook kry Pa weer die Houdini-ding reg. Sy moermeter se naald is om die stop gevou. Nou is daar ‘n padda, ‘n strandemmer en ‘n hark in die drinkwater. Die teewater is nog steeds vrot.

Met poging nommer drie leer Pa skielik linkshandigheid aan. Die hark kom uit, die emmertjie ook. Pa sukkel om die padda met die emmer in die linkerhand geskep te kry, maar my woordeskat stagneer. Daardie woorde ken ek al almal. Eindelik is die padda in die emmer en die emmer op die tenk. Pa maak die mangat toe en gee die hark aan. Hy gooi die emmertjie met die padda met ‘n boul-aksie van die tenk af. Pa kàn nie met ‘n boul-aksie gooi nie, sy arm klim uit die potjie uit … Gelukkig lê hy nie weer met sy regterarm in die tenk nie. Ek leer niks nuut nie, want Pa praat nie: Pa brul. Ek dog eers hy het weer sy kop in die tenk gedruk, maar hy het nie. Hy brul soos ‘n leeu.  

Ek ken modder as ek dit sien, ander bruin goeters ook. Wat ek sien aankom is nie modder nie. Daar is ‘n mooi kweperlaning op die werf. Ek sien nie rede waarom dit verinneweer moet word as ek voorsorg kan tref om dit te verhelp nie. Ek wil nie beweer dat Pa ‘n onredelike man was nie, maar dis dom om ‘n moerige leeu se stert te trek. Jy talm ook nie daar rond as jy weet sy stert is al klaar getrek nie. 

Ter wille van die kweperlaning gaan klim ek die ysterklip koppietjie uit en kyk die res van die dag na die akkedisse met die bont sterte. Daardie leeu was verby moerig. Ek het hom hoor brul.

5 Kommentaar

  1. Pikkelik het gesê,

    O genade, ek brul nou-nog van die lag! Hehehehe :-)

  2. Nico het gesê,

    Al wat ek kan sê is dat ek op die grond rondgerol het van die lag. Siestog. Dat een mens se ongeluk so snaaks kan wees.

    Dankie dat die storie ook neergeskryf is.

  3. bloubloed het gesê,

    David Kramer sing: “Ja die ouens was rof in die ou dae …” maar dit was nie regtig so nie. Beskrywings van fornikasie en excreta het nie in Pa se woordeskat bestaan nie. Die krag van sy kragwoorde het in die oortuiging waarmee dit gebruik is gelê, nie in hulle betekenis nie. Maar hy het ‘n hele paar geken met die trefkrag van “Verdomp” en die se verbuigings, en hy kon liries raak …

  4. Quo Vadis, Afrikaanse Stories? « Uit die Siel van ‘n Boer het gesê,

    [...] Die punt waarby ek so lank draai om uit te kom is dit: Afrikaans het ʼn waardevolle skat van sulke stories; ongelukkig, noudat oom Jan en oom Tolla en die meeste van daardie generasie vertellers Sipresse toe is, word daardie skat verwaarloos, en raak hy dalk heeltemal verlore. Onwillekeurig vra ek myself ook, hoeveel goeie staaltjies is daar buite wat verlore raak, bloot net omdat dit nooit opgeteken word nie? As jy wil sien wat ek bedoel, kliek gerus hier. [...]

  5. Johan Swarts het gesê,

    Ah, ek lees jou vandag raak.

    Oulike storie. Stuur dit groot asseblief vir die Tydskrif-projek.

Lewer Kommentaar