Oom Johannes
Nico het nou my vred(t)ige bestaan kom staan en belol. Merkwaardige mense … hmm. Daar is veral twee wat ek sou uitsonder: Oom Johannes en (oom) Kobus. Maar vandag vertel ek van oom Johannes.
Bloubloed het op die platteland grootgeword, op ‘n plasie van so 30 hektaar. Pa was een van drie onderwysers by die plaasskooltjie, so vyf-ses kilo’s van die plasie af. Oom Johannes, die naaste buurman, se huis was so halwe kilo van ons af – naby genoeg dat ons kon hoor as hy soggens een van sy werknemers se sondes van die vorige dag, of saans, sondes van die afgelope dag, onder die loep geneem het. Sy stem het dan met ’n oktaaf of twee gestyg en die desibels het hier rondom rooilyn bly huiwer. So was hy ‘n vroeë teenwoordigheid in my lewe, maar ek kan nie onthou dat hy gedurende sulke tirades enigsins tot my woordeskat bygedra het nie. Die ergste was toe hy eendag vir een van sy werkers wat ‘n paar dae ge-AWOL het, vertel het: “Jou huis is rond, jou kop is rond en jy loop rond, jou st..nt!”
Hy was ‘n groot man, stewig oor die ses voet (1,83 m) en seker ‘n goeie 120 kg sonder dat hy juis spek saamgedra het. ‘n Myner van die standerd-ses skoolbanke af, het hy vir bykans alles kans gesien, maar moet hom asse-groot-seblief nie vra om op ‘n baksteen te klim nie. ‘n Kop vir hoogtes, die had hy nie.
Met ‘n noukeurig gespaarde geldjie kon hy ’n plaas-droom in Maleoskop se wêreld koop. Na die plasie betaal is, was die geld ook op en is die sekelbos en haak-en-steek met bloed en sweet die stryd aangesê. Rugbreek jare was dit, wat hom seker saans soos ‘n dooie in die bed laat val het.
Ten spyte van ’n vaste inkomste was my huisgesin maar bra arm. Nou nie barre nood soos ek baie jare later onder sommige swart mense sou sien nie, maar daar wàs dae wat Ma nie geëet het nie. Eers later sou ek verstaan dat dit nie was om gewig te verloor nie – sy was reeds ‘n maer kraai – maar dat die brood en meel nie tot by nog ‘n betaaldag gerek kon word as sy saamgeëet het nie.
Kleintyd het ek dus heel gemaklik by oom Johannes en sy gesin se relatiewe gebrek ingepas en kon ek in daardie gesin se vreugde deel toe dit met hulle beter begin gaan het. Die vroegste van daardie beter dae wat ek kan onthou, was die diesel Vaaljapie en sy eerste koringoes daarna.
Die oes is toe nog in gerwe ingesamel en na die dorsvloer gery. Daar is dit met ‘n masjientjie gedors, en het die mudsakke ry op ry gestaan, elke sak mooi afgeweeg: 210 pond. Pa se opmerking dat die oes hom darem ‘n treetjie vorentoe sal sit, het hom lank met sy hand koring uit ‘n sak laat skep en deur sy vingers laat terugglip, skep en laat teruggly, skep … Uiteindelik het hy opgekyk en saggies gesê: “Buurman, wat dit regtig waarde gee, is dat ek kan weet êrens gaan iemand nie honger slaap nie.”
‘n Intelektuele reus was oom Johannes nie, maar daar was nie ‘n masjien wat hy nie kon reg toor nie. Op ‘n dag het ‘n ander buurman hom gevra om ‘n dieselenjin wat ‘n skeet gehad het reg te maak. Die hele masjien is uitmekaar gehaal, herstel en weer aan die gang gesit. Daardie middag kom ‘n boodskapper aan met die tyding: Die masjien staan. Oom Johannes het lank voor hom uitgestaar, toe baie verleë na Pa gekyk, “Buurman, dit is my skuld!” gesê en ‘n vergete wastertjie uit sy broeksak gevis. Hy het haarfyn beduie waar die wastertjie moes in, maar kon nie verklaar waarom dit daar moes wees nie. Hy het net geweet as die wastertjie nie daar is nie, sal die enjin nie aanhou werk nie!
Moenie glo dat hy ‘n engeltjie was nie! Hy het met smaak vertel hoe sy skoonma sy huwelik gered het: Eendag was hy so by koffietyd naby die huis, en het ingeval vir ‘n ou lafenissie. Vroutjie was nie gewoond aan die ontydige inkommery nie en het gewoon aangegaan met haar dagtaak, min wetende dat sy teenwoordigheid eintlik ‘n skimp vir ‘n ou koffietjie was. Na hy ‘n ruk daar rondgestaan het en daar nie ‘n drinkdingetjie na vore gekom het nie, het hy die koffiepot van die koolstoof afgegryp, gekyk of dit rêrig leeg was, dit by die agterdeur uitgesmyt en geloop. Skoonma, wat op daardie stadium by hulle gebly het, het die keteltjie loop optel, koffie gemaak en vir hom land toe gevat …
Destyds het die Tegniese Kollege in Pretoria nog “volwasse onderwys” kampe in die Julie-vakansies gereël, daar op Oberon by Harties. Pa en oom Johannes het saam-saam ‘n fotografie kursus bygewoon, ‘n donkerkamer toegerus en bedryf. Pikkie wat ek was, het ek ook saamgespeel in die donkerkamer. Dit was die eerste keer wat ek kan onthou dat oom Johannes uitgereik het en my lewetjie aangeraak het.
Ek het altyd ‘n belangstelling gehad in die boedery neffens ons. Toe oom Johannes vir hom twee Dorper ramme kry om sy krummels “op te teel”, het ek met ‘n verwagting na die eerste lammers uitgesien asof dit my eie was. Daar het hy my voor die eerste groot keuse in my lewe gestel: Ek kon kies, hy sou òf vir my ‘n ooilam merk, òf ‘n ligmeter gee vir die fotografie.
Hoe kies ‘n tjokker van skaars vyf tussen twee koninkryke wat jy kan beërwe? Oom Johannes het my nie net met die keuse gekonfronteer nie, hy het ook met my gesit en die voordele, nadele en gevolge van elke keuse uitgetrap. Hoe dankbaar is ek dat hy so vroeg in my lewe daardie les geleer het …
Toe ek groter was het ek vas besluit: Ek gaan ‘n wetenskaplike word. Vir my was die sleutel tot daardie droom my eie mikroskoop. My ouers kon so iets nie bekostig nie en ek was al groot genoeg om die moeilike posisie te verstaan waarin ek hulle sou plaas deur selfs net te vra. Ek het my drome by oom Johannes gaan bekla en ’n naweekwerkie vir ‘n geldjie by hom gebedel – hy was toe al beter daaraan toe.
Hoe dit bewerk is weet ek nie, maar Pa het kort daarna vir my ‘n mikroskoop – en ‘n preek – gegee. Vandag vermoed ek dat Oom Johannes die geld vir die mikroskoop, of ten minste ‘n deel daarvan, gegee het.
By oom Johannes het ek geleer dat ‘n man màg huil. Sy rou smart toe sy pa vermoor is en sy erbarmlike verwesenheid toe sy Buurman die dag begrawe is, bring vandag nog trane in my oë.
Oom Johannes het daarna nooit Pa se plek probeer oorneem nie, maar soos ‘n skaduwee was hy altyd in die agtergrond: Nooi ons vir braaivleis tussen die wilde seringe by Cullinan toe die plaas hom in die droogte afgooi en hy desnoods ‘n prospekteer kontrak moes aangaan; kom laai ’n bakkievrag sand in die stad af toe Pienkbloed ‘n rotstuin wou aanlê; wys ons sy nuwe plaas by Bronkhorstspruit …
Die werkers het hom Swal’whal genoem, “Die man wat altyd lekker kon lag.” ‘n Lag wat so groot soos hy was, ‘n lag wat so groot soos sy hart was …
Ek sit in die Oos-Kaap toe sy lyf te moeg word vir nòg lewe en kon nie totsiens kom sê nie. Hamba gahle, Swal’whal. Dankie vir die lag wat jy in my lewe gesit het …
netjane het gesê,
2008 Maart 30 at 11:12 nm
Jy vertel die verhaal verskriklik mooi.
Nico het gesê,
2008 Maart 31 at 6:14 vm
Die skoolmeneer gee jou 100%, en ‘n goue sterretjie, bloubloed. Dankie dat jy die aangrypende verhaal met ons gedeel het.
Van skouers, watertenks en woordeskat « Bloubloed se kletswerf het gesê,
2008 Maart 31 at 12:05 nm
[...] March 31 at 12:04 pm (Kindertyd, Mense) Oom Johannes het nie baie tot my woordeskat bygedra nie. Pa het my taal onderrig behartig. Pa was nie ‘n groot [...]
Nico het gesê,
2008 April 1 at 8:11 nm
PS… Is daardie mikroskoop nog êrens? Ek onthou dit nog, maar toe ek nou daaroor dink, kan ek nie onthou wat daarvan geword het nie…
bloubloed het gesê,
2008 April 2 at 3:44 nm
Nico,
Ja, ek dink hy is nog êrens in ‘n boks weggepak.