Neem uit die verlede
2008 Maart 27 at 6:21 nm (Laasjaar se stories)
Rosalind se storie oor Ouma en die Kakie laat my wonder: Hoeveel van gister se stories het al verlore gegaan sonder dat dit ooit oorvertel is?
Meeste van die oorleweringe van die ou mense is seker Bôggom en Voertsek stories (…/daar is niks daaruit te leer nie/en geen voordeel om daaruit te trek), maar nogtans. Die alledaagse gebeure in Oupa en Ouma se lewens het uiteindelik my waardes en lewensuitkyk help vorm.
My oupas en oumas lê al lank en langboompies kyk. Pa het Ouma in daardie wedren gewen, en Ma se koppie is nie meer aldag helder nie. Ek weet ek het nie al die O&O stories gehoor nie, die paar wat ek nog ken moet ek dalk neergriffel.
Oupa van der Merwe het die Swartland se klei van sy voete afgeskud en hom in die Transvaal kom vestig. Ek het hom nooit geken nie. Ses jaar voor ek was, is hy, soos dit ‘n goeie sendeling betaam, tot hoër diens opgeroep, maar nie voor hy vier VDM’pies tot die talryke familie toegevoeg het nie: Twee seuns en twee dogters.
Ouma van der Merwe, nee Brand, was lewenslank trots op haar aangetroude van, want hààr grootoupa-pa was òòk ‘n Van der Merwe. Daardie Van der Merwe is in haar pa, my groot-oupa, se naam verewig: Nicolaas Johannes van der Merwe Brand – wel, tydelik verewig dan. Daardie tak van die VDMs was boorlinge van die Kolonie, uit Upington se omgewing. (In al haar dae het ek Ouma nooit hoor praat van die Kaap nie, ”die Kolonie” was dit en niks anders nie.) Hierdie storie gaan oor dààrdie Van der Merwes. Hoeveel daarvan waar is weet ek nie. Ek gee dit aan vir die prys waarvoor ek dit gekry het.
‘n Jaar of twee na die tweede wêreldoorlog het Ouma en haar Jongste Spruit die lang pad na die Kolonie aangepak in ‘n neëntien-voertsek DeeKaaWee’tjie om gebroke familiebande op te tel, te herbevestig en te versterk na die dood van Oupa in 1944. Een van die moès besoeke, was om vir tant Santjie van der Merwe te gaan kuier.
Arme Jongste Spruit was natuurlik nog nooit in die Kolonie nie en Ouma se geheue van hoe die plaaspaaie nou eintlik loop, was na amper veertig jaar gevaarliker as die sinkplaatpad wat gedreig het om die DeeKaaWee’tjie tot ‘n hopie onderdele te reduseer. Die enigste raad was maar om pad te vra, maar O Wee! Niemand ken tan’ Santjie van der Merwe nie!
Ouma was ‘n vindingryke vrou en het mos in diè wêreld groot geword! Na vele vrugtelose navrae breek die daglig uiteindelik deur: Kan die geëerde padwyser dalk beduie waar bly Nôi Santjie Omkyk? Nôi Santjie Omkyk? Geen probleem nie! Gou-gou was hulle daar. Met ‘n koppie gaat en ‘n boerbeskuit kon hulle die stof uit hulle kele was en vir ‘n paar dae die natuurskoon van niksheid geniet.
Omkyk? Omkyk! Vanwaar diè vreemde “van”? Die storie loop glo so:
‘n Klomp brandarm Boere het nà die Engelse Oorlog (ek dink dit was 1881 s’n, ander pas die prentjies nie mooi in mekaar nie) ‘n eiland in die Oranje, naby Uppington, beset. Hulle had ‘n eenskaar ploegie, maar tussen die hele spul was daar nie ‘n perd, ‘n os of selfs ‘n Uppingtonse esel waarmee die eiland se ryk grond geploeg kon word nie. Maar ‘n Boer maak ‘n plan, die manne maak spanne en trek maar self die ploeg.
Die stoere voorvader, glo ene Piet van der Merwe, was die “voor-os” in sy span. (Ek verstaan dat hy besonder blas van kleur was en genoegsame bewys nagelaat het dat hy nie ‘n os was nie.) As voor-os èn touleier van die span, moes onse Piet sorg dat die manne nie onnodig ver loop nie. Hulle moes energie spaar om daardie ploeg te trek! So het hy, wanneer hulle naby die einde van die akker kom, so omkyk-omkyk geloop om te sien wanneer hy die draai moes aanvoor.
Om ‘n ploeg te kan trek, moet ‘n man jou kop laat sak en voor jou kyk. Loop jy en omkyk, tel jy jou kop op en verminder jou trek-vermoë (en energie verbruik) dramaties – iets wat die ander “osse” gou agterkom.
Eendag was onse Piet glo nie te erg op sy stukke nie. Dalk het hy die vorige aand ‘n os nek-om gedraai – ons sal nooit verseker weet nie. Ewenwel, hy het die dag voor die ploeg baie vroeër en baie meer kere as wat hy moes, “omgekyk” om te sien wanneer hy die span moes omlei. Een van die “agterosse” was heel gou nie gediend daarmee dat hy meer as sy regverdige deel sweet moes inlê nie, en het daar van agteraf geskreeu: “Swart Piet Omkyk, jy moet minder omkyk en meer trek!” (Ouma was baie Victoriaans. As daar ander tale gebesig is, is dit gesensor – in elk geval waar daar klein jukskeitjies met groot koppe naby was.)
Van die dag af was Piet en sy nageslag in die omgewing bekend as die “Swart Omkyks” - die nageslag het almal Piet se blas gelaat beërwe. Verniet dat jy na Santjie van der Merwe loop soek het, maar vir Santjie Omkyk het almal blykbaar geken.
rosalindfranklin het gesê,
2008 Maart 27 at 7:15 nm
Inderdaad die storie is so kosbaar. Ek is gek na jou omkyers! En bly jy het dit opgeteken.
Nico het gesê,
2008 Maart 27 at 9:57 nm
Ek is ook bly die storie is nou opgeteken en gedokumenteer; dalk is dit vir die heel eerste keer. Ek dink hierdie is een om te tag vir die volgende rondte van {TYD}Skrif. En baie mooi geskryf.
Adrie het gesê,
2008 Maart 28 at 10:36 vm
Is Bloubloed en Nico familie van mekaar? Of broers of neefs?
Pikkelik het gesê,
2008 Maart 28 at 12:01 nm
Is dit nie tipies van ons voorgeslagte nie? Ek weet my oupagroot was Christoffel Blacksmith en my oumagroot Kalla Heelbrood. Oupa s’n is voor die hand liggend maar ek gaan ‘n punt daarvan maak om uit te vind wat Oumagroot se storie is…
bloubloed het gesê,
2008 Maart 28 at 4:36 nm
Adrie
Party ouens op hierdie sfeer is heeltemaal te skerp! Maar kom ons laat dit daar, party ouens wat ek ken lees hierdie blog en al het Nico mooi goed gesê toe hy my welkom geheet het, kan ek dalk vir hom ‘n verleentheid word. Verder, as iemand dink ons is familie, verwag hulle nou-nou van my om ook te kan skryf soos Nico in
Twee jaar in Sonneblomme. En ek kan nie. Glad nie.
Pikkelik
Krap hom uit jong, en laat loop!
rosalindfranklin het gesê,
2008 Maart 29 at 1:11 nm
Jinne Pikkelik daai name klink interessant, skryf vir ons ‘n storie oor hulle asseblief as jy uitgevind het.