Mense wat ek graag wou ken
Dis Sondagaand en ek sit en luister met een oor na Johan Botha se “Dis Opera” op RSG. En ek dink aan die man …
Hy is een van die mense wat ek graag sal wil ontmoet. Hy is seker een van die veelsydigste mense wat ek van weet – wel, dan ten minste een met die mees uiteenlopendste smake, belangstellings en talente. Maandagaand is hy moordenswaardig as hy met die tieners deurmekaar is, ontroerend as hy op 50/50 die Groen Saak bepleit en Sondagaand is hy prikkelend (nee, nie in daai sin nie – jy kan mos stout kinders met hom bangmaak!) as hy oor opera gesels. Dalk sou ek hom ook nie wou ontmoet nie, sê nou ek is teleurgesteld met die ontmoeting?
Dit laat my dink, wie sou ek nog graag wou ontmoet? Daar val al heeldag ‘n ketsnat reën en Sondagaand is mos ‘n goeie tyd om te tob, te besin en onmoontlike drome te droom. Laat my dink …
Adam. Sou hy my kon vertel hoe dit voel om vlekloos, sondeloos te kan staan, as heerser oor die volmaakte en onbesoeldelde skepping? Sou hy by my ‘n beter begrip kon inprent van presies hoè dit voel om God as Vader te ken en te ervaar, en hoe verskriklik dit règtig is om van Hom geskei te wees? Sou hy beter verstaan van die verskiklike alleenheid wat ons soms voel, selfs saam met die maat wat Hy spesiaal vir jou gemaak het?
Moses. God het so baie met hom gepraat, dalk sou ek van hom kon leer hoe God se stem klink, hoe om Hom te hoor. Ek sou my saam met hom kon verwonder as die see skeur en as Mara se bitter water soet word. Hy sou my kon vertel hoe manna smaak en hoe die oggendlug na heuning ruik as die manna in die son versmelt.
Jesaja sou my kon leer om te sien, en om my onrein lippe om die woorde te vou wat sou kon vertel wat ek sien.
Vir Paulus is ek lugtig. Die man kan jou dalk ompraat om ’n toring aan te pak waarvan jy weet die koste is te hoog, jou dalk oortuig dat jy meer moed het as wat jy regtig het. ‘n Gevaarlike man is hy vir een soos ek wat saf geword het van die gemak van die 21ste eeu.
By Isaac Newton sou ek kon leer om natuurwette oop te breek en ‘n groter orde te sien as wat daar in my deurmekaar bestaan is.
Livingstone sou my kon vertel hoe Afrika gelyk het toe die olifante nog dik geloop het waar Oom Paul nou al die radiomaste op die Magaliesberg staan en bekyk. Hy sou die woorde gehad het om te vertel hoe dit voel om die Zambezi die eerste keer in ‘n kloof te sien afstort, as niemand jou vooraf vertel het hoe mòòi dit is nie.
Maar meeste, mèèste, sou ek die Een wou leer ken, goed leer ken, wat vertel van die ligte las en die sagte juk …
Adrie het gesê,
2008 Maart 17 at 4:53 nm
Dalene Matthee – die beste skrywer nog in Suid Afrika.
Da Vinci – hy het alles van sy wereld geweet.
Wouter Basson – wat weet hy wat die wereld nog nie weet nie.
Petrus – wil sien of hy in meer moeilikheid kan kom as ek.
Roer het gesê,
2008 Maart 19 at 12:13 nm
Shoe. Wat ‘n mooi stukkie prosa. Ek sou vir Lukas wou ontmoet (Dr en vriend van Paulus). Verseker vir Jane Austin. Ek lees haar boeke oor en oor en dit word net mooier. Miskien vir Elvis. Ek wil hoor of hy gelukkig is. Is hy in die Hemel by Sy God. Laastens vir Emily Hobhouse. Ek wonder wat sou sy nou van SA se^. Het haar boek (dagboek stukke) vreeslik insiggewend gevind en ek haal my hoed af vir haar.
lol@Adrie oor Petrus!
kyker het gesê,
2008 Maart 20 at 7:45 vm
Hmm. Wie ek sou wou leer ken:
1) Thomas A Edison, die ou wat soveel dinge wat ons deesdae as vanselfsprekend aanvaar, uitgevind het.
2) WA Mozart. Was hy regtig so ‘n maltrap soos hulle hom destyds in sy fliek uitgebeeld het?
3) Werner von Braun, die Duitse vuurpylontwerper.
4) Enige een van die Egiptiese konings wat regeer het in die tye toe die piramides gebou is.
5) Tarzan, die held van my kinderdae. Swieng mens rerig so lekker aan ‘n bobbejaantou, en hoe voel dit om saam met Jane in die bome te bly?
Nico het gesê,
2008 Maart 26 at 8:42 nm
Dit mag vreemd wees maar ek het ‘n ruk gelede gedink om ‘n soortgelyke posting te skryf. Nou het sekere mense, wyser as ek, my voorgespring!
My lysie…
1) Mohandas Gandhi. Ek dink hy het meer insig gehad as enige mens nog om mense met soveel verskille kon laat saamwerk, saamleef en saam streef vir een gemeenskaplike doel. Dit is werklik ‘n kuns om vir mense wat lewensbreed verskil ‘n gemeenskaplike doel te kan gee. Ek wens ons het ‘n Gandhi in Suid-Afrika gehad op hierdie stadium.
2) Douglas Adams. ‘n Man met so groot verbeelding en soveel insig in die sosiale foute van die ganse mensdom wat nog steeds dit op ‘n humoristiese manier kan stel is iemand om te ken.
3) Roald Dahl. Baie vir dieselfde redes as DA, maar RD se sinistere sienswyses kon balans gee na DA se ligsinnigheid.
4) Daniël. ‘n Held en ‘n beginselvaste man in die aangesig van alle teenspoed.
5) idiwidi. Soveel interessante stories om te vertel en met soveel gevoel.
6) George Maru – riviersonderend. Ek dink dit moet vreeslik interessant wees om met hom te gesels.
bloubloed het gesê,
2008 Maart 27 at 10:24 vm
Soveel mense, soveel dinge! Ek dink elkeen van ons kan elke dag ‘n ander lysie opstel, afhangende van watter bui jy in is. Die probleem is net: As jy soveel ouens moes ontmoet, wanneer gaan jy kans kry om op jou eie unieke mishoop te kraai?
Adrie, ek bly ver van Petrus af. As ons twee saam in die selfde omgewing moes wees, sal daar nèt moeilikheid wees!
Roer, dankie vir die kompliment!
Skoor het gesê,
2008 Maart 27 at 12:44 nm
Oom Paul Kruger – ek glo van kleins af dat ek op die trappies van sy Hemelsttoep sal kan sit en ‘n Klofie saam hom drink.
Dan wil ek bitter graag bietjie in die ou se kop klim en uitvind hoekom hy so geliefd was onder sy volk, maar ook so gehaat onder sy vyande.
En verder kan ek nou nie regtig se nie.
Ek weet dat dit amazing moet wees om met Jesus te kan gesels, want daar is darem baie onopgelosde raaisels op hierdie aarde, en ek hou van ‘wow’ goete. Miskien eendag…
rosalindfranklin het gesê,
2008 Maart 29 at 1:17 nm
Dit s nou lekker my lys is omtrent is so lank soos ek,100 maal.
Myne is: Charles Darwin, ek sou met hom wou geselfs oor alles wat ons vandag weet oor die genetika en sy siening daarop.
Albert Einstein….wat dink jy oor alles wat ons intusse geleer met Hubbel, Spitzer ens
Leonardo da Vinci oor al sy uitvindsels, sy kuns
Eugene Marais oor sy wetenskap
En met van die die eerste Homo sapiens wat kon praat (in hulle taal). Dit sou amazing wees, hoor dat dink hulle.
Ek sou ook graag met my honde wou chat.
‘n Merkwaardige mens « Uit die Siel van ‘n Boer het gesê,
2008 Maart 30 at 8:25 vm
[...] wou ‘n rukkie gelede ‘n posting doen oor mense wat ons graag sou wou ontmoet, maar bloubloed het my voorgespring op daardie een. Ek het gou vanoggend ‘n draai gaan maak by [...]